Thursday, September 13, 2007

Haskell Vineyards

Woensdag aan die boutiek kelder Haskell Vineyards besoek. Dit was weereens 'n uitstekende proe aangebied deur die hoof-wynmaker (Rianie Strydom). Sy is hier tweede van regs onder in die proe-kamer saam met Sam, Marlene en Isobel.

Ons is be-indruk deur die beklemtoning van kwaliteit en die visie wat Rianie vir die kelder het. Deur die loop van die aand is ons veral getref deur die slim gebruik van hout in hierdie kelder. Van die wyne wat ons geproe het is:
1. Chardonnay 2006 - Komplekse vrugte (appels, lemmetjie), afgerond met 'n volrond vars smaak.
2. Chardonnay 2005 - Die vrugte is goed gebalanseerd met die hout wat meer na vore tree in hierdie goed ge-integreerde wyn
3. Shiraz (2006 - nog ongebotteld) - Ons het die impak van verskillende kuipers op hierdie wyn geproe.
4. Cabernet Sauvignon (2007 - ongebotteld) - Weereens die invloed van verskillende kuipers gesien op 'n wyn met baie potensiaal
5. Boulder Road Shiraz 2005 - Die aardse speserye aangevul met hout geure gaan oor in 'n volrond smaak met 'n lang nasmaak.
6. Samara 2005 - Alhoewel aanvanklik skaam op die neus is alles goed gebalanseert met komplekse struktuur op die mond.
7. Amalgam 2004 - Die bessies en sjokolade beloftes op die neus word bevestig in die mond waar die taniene goeie ondersteuning gee vir die "smooth" smaak.

Nuwe Konstitusie

Die huidige bestuur het ons konstitusie deeglik hersien. (Dit was nodig gewees om dit te doen aangesien ons reeds amper vyftien jaar saam proe en dinge het effens verander). Ons het goed besin oor belangrike aspekte van ons proe en besluite geneem oor lidmaatskap en lede-gelde. Van die praktyke wat ons deur die jare gevestig het (en wat nie in die ou dae gegeld het nie - soos e-posse ens.) is nou in ons konstitusie verskans.

Een van die belangrikste elemente wat behoue gebly het is dat ons besluit het om 'n wyngilde te bly en nie die naam na 'n "klub" te verander nie - of soos Hendrik dit gestel het - "ons vlieg nie duiwe nie."

Die lekker van die "konstitusie-vergadering" was dat ons weer bymekaar kon kom. (Abrie het Lucas Thachers se kantore beskikbaar gestel) en elkeen het 'n goeie bottel rooi-wyn en vinger-ete-dinge saamgebring. Ons het die aand afgesluit met onder andere 'n Ernie Els, 'n Barolo en 'n wyn van Chile. Was "great" gewees.

Wellington Naweek


Wat 'n fees wat weer uitstekend gereel is deur Nico. (Gelukkig kon hy hierdie keer darem self ook bywoon en moes hy nie weer die wereld rondvlieg nie). Die program het voorsiening gemaak dat ons die beste van Wellington kon probeer.

Ons het die Saterdag-oggend met ontbyt by Diemersfontein restaurant begin en dit onmiddelik opgevolg met 'n "stunning" proe, wat natuurlik met sjokolade en Pinotage ge-eindig het. Daarvandaan diep in die klowe ingery om die volgende proe op die fantastiese plaas Doolhof te kon geniet. Hier het ons 'n verskeidenheid wyne geproe van 'n kelder wat nog probeer om sy identiteit te vestig. Ons sien met afwagting daarna uit om te sien wat na vore gaan kom.

Middag-ete is op die gras en in 'n skuur op die Mischa landgoed gehou. Dit is nou nadat ons hulle uitstekende wyne eers kon proe. 'n Mens kan die kwaliteit en individualiteit van die passievolle wynmaker (Andrew) in die wyne proe. Die foto hierbo is op die grasperk by Mischa geneem.

Die Saterdag-aand het ons in die Pontac Manor in die Paarl oorgebly. Net voor die rugby is ons op die kwaliteit wyne van Bovlei getrakteer. Die aand-ete in die plaaslikke restuarant was uit die boonste rakke, aangevul met Bovlei wyne. Ons het swaar totsiens gesê die Sondag-oggend na ontbyt.