Sunday, December 2, 2007

Saturday, November 10, 2007

Jaarafsluiting 2007

Die aktiwiteite word met 'n hoogtepunt afgesluit met 'n uitstekende aand-ete by die Oude Paarl Hotel. Die geleentheid is uitstekend gereel deur Abrie en Susan. Die drie-gang maal is gekomplimenteer deur wyne van Nederberg en teen die einde van die aand is die prys-wenner Manor House Shiraz ook geproe.

Die "food and wine pairing" was as volg:

Voorgereg: Eend en beet gereg met Nederberg Chardonnay
Hoofgereg: Bees fillet met Kapokaartappels, met 'n Nederberg Shiraz
Nagereg: Creme Brulee met Nederberg Late Harvest.

Sunday, November 4, 2007

Lourensford


Die wynklub besoek die impossante Lourensford wynplaas net buite Somerset-Wes. 'n Uitstekende proe word aangebied waar wyn en Nougat vergelyk word. Al die wyne spreek van uitstaande gehalte:

1. Viognier - Appeliefie, appelkoos met ligte vanilje geure.
2. Seventeen Hundred - (Merlot, Cab en Shiraz) met diep leer geure
3. Noble Late Harvest - 'n wenner: appelkoos en heuning

Thursday, September 13, 2007

Haskell Vineyards

Woensdag aan die boutiek kelder Haskell Vineyards besoek. Dit was weereens 'n uitstekende proe aangebied deur die hoof-wynmaker (Rianie Strydom). Sy is hier tweede van regs onder in die proe-kamer saam met Sam, Marlene en Isobel.

Ons is be-indruk deur die beklemtoning van kwaliteit en die visie wat Rianie vir die kelder het. Deur die loop van die aand is ons veral getref deur die slim gebruik van hout in hierdie kelder. Van die wyne wat ons geproe het is:
1. Chardonnay 2006 - Komplekse vrugte (appels, lemmetjie), afgerond met 'n volrond vars smaak.
2. Chardonnay 2005 - Die vrugte is goed gebalanseerd met die hout wat meer na vore tree in hierdie goed ge-integreerde wyn
3. Shiraz (2006 - nog ongebotteld) - Ons het die impak van verskillende kuipers op hierdie wyn geproe.
4. Cabernet Sauvignon (2007 - ongebotteld) - Weereens die invloed van verskillende kuipers gesien op 'n wyn met baie potensiaal
5. Boulder Road Shiraz 2005 - Die aardse speserye aangevul met hout geure gaan oor in 'n volrond smaak met 'n lang nasmaak.
6. Samara 2005 - Alhoewel aanvanklik skaam op die neus is alles goed gebalanseert met komplekse struktuur op die mond.
7. Amalgam 2004 - Die bessies en sjokolade beloftes op die neus word bevestig in die mond waar die taniene goeie ondersteuning gee vir die "smooth" smaak.

Nuwe Konstitusie

Die huidige bestuur het ons konstitusie deeglik hersien. (Dit was nodig gewees om dit te doen aangesien ons reeds amper vyftien jaar saam proe en dinge het effens verander). Ons het goed besin oor belangrike aspekte van ons proe en besluite geneem oor lidmaatskap en lede-gelde. Van die praktyke wat ons deur die jare gevestig het (en wat nie in die ou dae gegeld het nie - soos e-posse ens.) is nou in ons konstitusie verskans.

Een van die belangrikste elemente wat behoue gebly het is dat ons besluit het om 'n wyngilde te bly en nie die naam na 'n "klub" te verander nie - of soos Hendrik dit gestel het - "ons vlieg nie duiwe nie."

Die lekker van die "konstitusie-vergadering" was dat ons weer bymekaar kon kom. (Abrie het Lucas Thachers se kantore beskikbaar gestel) en elkeen het 'n goeie bottel rooi-wyn en vinger-ete-dinge saamgebring. Ons het die aand afgesluit met onder andere 'n Ernie Els, 'n Barolo en 'n wyn van Chile. Was "great" gewees.

Wellington Naweek


Wat 'n fees wat weer uitstekend gereel is deur Nico. (Gelukkig kon hy hierdie keer darem self ook bywoon en moes hy nie weer die wereld rondvlieg nie). Die program het voorsiening gemaak dat ons die beste van Wellington kon probeer.

Ons het die Saterdag-oggend met ontbyt by Diemersfontein restaurant begin en dit onmiddelik opgevolg met 'n "stunning" proe, wat natuurlik met sjokolade en Pinotage ge-eindig het. Daarvandaan diep in die klowe ingery om die volgende proe op die fantastiese plaas Doolhof te kon geniet. Hier het ons 'n verskeidenheid wyne geproe van 'n kelder wat nog probeer om sy identiteit te vestig. Ons sien met afwagting daarna uit om te sien wat na vore gaan kom.

Middag-ete is op die gras en in 'n skuur op die Mischa landgoed gehou. Dit is nou nadat ons hulle uitstekende wyne eers kon proe. 'n Mens kan die kwaliteit en individualiteit van die passievolle wynmaker (Andrew) in die wyne proe. Die foto hierbo is op die grasperk by Mischa geneem.

Die Saterdag-aand het ons in die Pontac Manor in die Paarl oorgebly. Net voor die rugby is ons op die kwaliteit wyne van Bovlei getrakteer. Die aand-ete in die plaaslikke restuarant was uit die boonste rakke, aangevul met Bovlei wyne. Ons het swaar totsiens gesê die Sondag-oggend na ontbyt.

Tuesday, July 17, 2007

Vyf Kontinente Pinot Proe

Ons het weereens 'n besonder leersame aand aan huis van Hannes en Annelie gehad. Dit was nog meer spesiaal omdat Annelie net 'n paar weke te vore in die splinternuwe huis in de Wijnlanden landgoed ingetrek het. Die proe was 'n blinde proe tussen sewe wyne (elkeen met 'n eie storie) van vyf kontinente. Hendrik was op sy stukke met die identifisering van drie van die wyne.

Die wyne wat geproe was, is die volgende:
1. Vriesenhof Pinot Noir 2001 (Suid Afrika), Tipiese Franse styl met kompleksiteit en lang nasmaak. Die groep beskou hierdie wyn as een van die bestes van die aand.
2. LIVI Dubnany Frankovka Barrique 2006 (Czech Republiek), Aangename neus, maar met "plat" smaak. Duidelik 'n goedkoper wyn.
3. Sea Smoke Southling Pinot Noir 2005 (California, USA), Effens soet met baie vrug en spesery. 'n Uitstekende wyn.
4. Mercurey Duvernay 2002 (Burgundie, Frankryk), Teleurstellend
5. Martinborough Vineyards Pinot Noir 2001 (New Zealand), Baie elegante wyn met goeie balans, word ook hoog deur die groep aangeslaan
6. Terrunyo El Triangulo Vineyards 2002 (Chile), Goeie wyn met vol-mond smaak
7. Domaine Drouhin 1998 (Oregon, VSA), Goeie balans tussen vrug en struktuur.

Na afloop van die proe word die volgende Burgundie ook oopgemaak ter vergelyking met die ander:
8. Gevrey Chambertin (Andre Ziltener) 1998

Thursday, June 21, 2007

Spier Witwyn Proe

Hierdie wynproe is aangebied aan huis van CN en Marlene Louw. CN het gereel dat Johan de Villiers die proe aanbied. Hy was al betrokke in sy loopbaan by Bergkelder, Oranjerivier Kelders, Swartland Kelder, Wine of the Month Club, Winecorp wat verander is na die Spier Groep.

Hy het begin deur vir ons ‘n agtergrond van Sauvignon Blanc en die mites daaromtrent te gee, ens. Hier het ons heelwat nuwe feite en interessante inligting oor die kultivar gekry. Ons het die intreevlak Sauvignon Blanc van Spier Groep geproe :

1. Savana (14 uit 20)
2. Spier Inspire (15 uit 20)

Spier koop hul wyne in tot by 17 kelders om hul groepering van kultivarversnitte mee op te maak. Daarna proe ons 5 Sauvignon Blanc’s. (Ongefiltreerd 2007) Hierdie Sauvignon Blanc’s kom vanaf Villiersdorp, Helderberg, Faure, Darling area en Spier self. Almal in hulle eie reg besondere wyne. Die onderskeie wyne verskil aan die hand van die volgende:
Baie sterk suurlemoengeure
Baie tropiese geure
Baie vrugtig
Tipiese “cat’s pee on a gooseberry bush”
Benoude geure

Daarna verdeel ons in vier groepe van vier persone elk. Elke groep het ‘n groot silinderbuis gekry om wyn in te versny. Die opdrag was: Maak ‘n prima versnit Sauvignon Blanc. Johan het elke groep se prima versnit blind geproe, dit bespreek en beoordeel. Die wenwyn kry 16 uit 20. Ons het weer die wenwyn versnit en geproe.

Ons het afgesluit met Spier se Private Collection Sauvignon Blanc 2006. Die top Sauvignon Blanc in hulle groep.
Daarna het ons die 2007 ongefiltreerde Private Collection Sauvignon Blanc van hulle geproe. Hierdie wyn is uitstekend ! (18 uit 20)
Hierdie wyn verkoop teen R85.00.

Tuesday, May 22, 2007

Witwyn Blindeproe

Willem en Isobel klink 'n glasie op ons Witwyn blindeproe van vanaand.

Dit is goed om redelik gereeld 'n blindeproe te hou. Dit help om die wynproe-vaardighede skerp te hou. Dit help ook om mens nederig te hou oor hoeveel daar nog geleer kan word. Of soos een van die lede vanaand opgemerk het: "Ons drink gans te min. Daar is soveel wat ons nog moet leer"

Reinhart het 'n uitstekend proe aangebied. Ons het agt wyne blind geproe en daarna probeer om die cultivars en hout van die verskillende wyne vas te stel. Die klub het redelik goed gevaar met 'n gemiddeld wat darem meer as 50% was.

Die wyne geproe was die volgende:

1. Bloemendal Semillon 2004
2. Thelema Rhine Riesling 2004
3. Ken Forrester Petit Chenin 2006
4. Brampton Chardonnay 2006
5. Fairview Viognier 2005
6. Alexanderfontein Sauvignon Blanc 2006
7. Jordan Wooded Chardonnay 2005
8. Fleur du Cap Wooded Chenin Blanc 2006

Almal goeie wyne teen billike pryse.

Sunday, May 6, 2007

Woolworths Wyne

Hierdie maand het Kobus 'n proe van Woolworths wyne gereel wat by die plaaslike Woolworths tak gehou is. Die volgende wyne is geproe.
Die volgende wyne is geproe:

1. Method Cape Classic (Chardonnay, Pinot Noir, Pinot Miniere, Pinotage). Druiwe word vroeg gepluk – groen appel, pynappel geure

2. Sauvignon Blanc – kom vanaf Nitida – 2006. Baie geure van gesnyde gras.

3. Chenin Blanc - kom vanaf Ken Forrester Stellenbosch - 2006. Wingerde is ongeveer 34 jaar oud.

4. Weisser Riesling – kom vanaf Paul Cluver Elgin – 2006. Geure van lietsjies, baie speserye, soos bv. kaneel

5. Bourdeaux Blend: Ladybird 2005. Cabernet Sauvignon, Cabernet Franc, Merlot

6. Shiraz – Kom van Diemersfontein - 2006. Amerikaanse Eike is gebruik.

Die groep se gunsteling witwyn was Sauvignon Blanc en die gunsteling rooiwyn: die Bourdeaux Blend. Die wyne het punte van tot 17 uit 20 gekry wat net bewys dat goeie wyne teen goeie pryse in die kleinhandel in Suid Afrika gekoop kan word. Dankie aan Marlene vir die inligting, aangesien ek nie kon teenwoordig wees.

Tuesday, March 6, 2007

Waenhuis Waaghals

Wat 'n besonderse voorreg om die huis van Charl en Danelle van Teilengen vannaand te kon besoek. Om te sien met hoeveel passie Charl wynmaak en hoe sy gesin hom help was 'n inspirasie gewees.

Charl maak reeds vanaf 2004 letterlik in sy waenhuis wyn met sy eie hande. Vanjaar beplan hy om tien cultivars (in die omgewing van agt ton!) druiwe deur die garage te vat. Hy het ons gewys watter tegnieke hy gebruik asook sy toerusting - selfs toegelaat om die doppe op die Merlot (wat besig was om te gis) af te druk.

Buiten die wyn, word daar verskeie ander items ook in die huis geproduseer (van ingemaakte olywe tot tuisgemaakte konfyt - met 'n paar ander items tussen-in).

Ons het deur die loop van die aand die volgende wyne geproe:

2004 Pinotage - Charl se eerste wyn
2004 Voorhout - 'n versnit van Cabernet, Cab Frank en Pinotage
2005 Merlot - 'n Diep rooi donker wyn met 'n effense skaam maar lekker aard
2005 Cabernet Frank - 'n Intense wyn met swart bessies en lang nasmaak
2005 Voorhout - 'n Versnit van bogenoemde twee wyne
2006 Ruby Cabernet - 'n Aangename vol-rond verrassing
2006 Pinotage - 'n Sjokolade gunsteling
2006 Shiraz - Baie aantreklike voorbeeld van die kultivar
2006 Merlot - Weereens aan die skaam kant soos die 2005
2006 Cabernet Frank - 'n Effens baksteen skynsel op die donker rooi, sterk en volmond smaak
2006 Cabernet Sauvignon - Swart bessies en Cassis, volmond met 'n goeie nasmaak
2006 Voorhout - Versnit tussen Merlot, Cab en Frank.Goed gebalanseerd

Al die wyne was besonder sag, maar met intense kleur en vrugte smaak - waarskynlik omdat dit met soveel sorg en liefde gemaak is...

Kaart na Maart-proe

Hier is 'n kaart om by CHARL VAN TEIJLINGEN-DOMAINE DE TEIJGER uit te kom. Die kelder is met die rooi sirkel gemerk, en die adres is De Teijger Str 6, Schoongezight, Durbanville, Tel.021-9750806. Die huis is derde op die regtekant en het groen pallisades.

Monday, February 19, 2007

Pienk Valentine

Op Woensdag, 14 Februarie het Sam en Isobel die tweede proe van die jaar aangebied met "Pienk" as die tema. Die kos en die wyn was uit die boonste rakke en almal wat teenwoordig was het dit besonder geniet.Alhoewel die kos 'n belangrike rol gedurende die aand gespeel het en besonder deur almal geniet is, is daar ook aandag aan die volgende wyne geee:

1. Villiera Brut Rosé - Droog met 45% Pinot, 15 Chardonnay en Pinotage

2. Simonsig Brut Ros
é - Droog met 94% Pinotage en die res Pinot, met geure van roos en rooi bessies

3. Four Cousins Ros
é - 'n billik gepryste wyn met tropiese vrugte, rosyntjies en sagte afsluiting. Versnyding van 35% druiwesap en 10% rooiwyn

4. Graca Ros
é - 'n lae prys, aardse wyntjie vir praat, lag, drink en samesyn

5. Koelenhof - semi soet, beste waarde wyn

6. Goats do Roam Ros
é - 'n vermenging van ses kultivars met effense hout. Gemaak om in die somer te geniet

7. Beyerskloof Pinotage Ros
é - Vars vrugte maar droog, gemaak van Pinotage met 24 uur dop kontak

8. Lanzerac Pinotage Ros
é - 'n ou klassieke staatmaker met aarbeie en framboos

9. Five Reserve Merlot - Vrugte, bessie en speserye

10. Mulderbosch Cabernet Sauvignon - Roosblare, aarbeie met 'n granaat nasmaak. Meer kompleks as die vorige wyne

11. Sylvanvale Cabernet Sauvignon 2004 - Een van die leiers in die nuwe vlaag van pienk wyne. Die vrug is verpak in 'n komplekse smaak wat oorloop in 'n goedgebalanseerde nasmaak.

Sunday, January 21, 2007

Crow's Nest




Wyngeproe op Saterdag, 20 Januarie by Marcel de Reuck en sy vrou. Nadat ons die volgende wyne geproe het, het ons aangesit vir 'n drie-gang ete.



1. 2005 Marcel de Reuck Sauvignon Blanc. Besonder komplekse wyn met genoeg karakter. Buiten vrug effense spesery ook te bespeur. Kan nog drie jaar in die bottel verouder.

2. Marcel de Reuck Cabernet Sauvignon/Merlot 2002. Goed gebalanseerde wyn met lekker "meaty" Merlot smaak.

3. Marcel de Reuck Syrah 2003. Hierdie bekroonde wyn was baie gewild. Volmond met lekker na-smaak.

4. Marcel de Reuck Cabernet Sauvignon 2003. Komplekse wyn met hope karakter. Alhoewel die taniene reeds sag en goed gebalanseerd is sou hierdie wyn nog baie jare kan hou. Ernstige wyn vir wynliefhebbers.

5. Crow's Nest Torres Claude 2003. Goeie kwaliteit teen 'n billike prys in 'n aantreklike bottel.


Tussendeur is ons ge-trakteer met die wonderlikse sons-ondergang en toe vroeg-aand hierdie wonderlike verskynsel: Tafelberg in die verte omring deur 'n skrefies-sekelmaan met die aandster op sy punt en die komeet.